|
Jou (veilige) plekkie in die son
Bekendes en
sportsterre bring ure in
die son deur – en net soveel tyd
in die kollig waar hulle op hul
beste moet lyk. Dr. Mohamed
Docrat, ’n dermatoloog van
Kaapstad, bekyk drie
plaaslike bekendes se
sonbeskermingstrategieë
Deur Sylvie Hurford
Roxy Louw<
Model en professionele branderplankryer
Sonstrategie My bevogtiger en onderlaag bevat SBF 15. As ek op
die strand is, gebruik ek ’n faktor 30-sonskermroom op my gesig. Wanneer ek in die
branders is, bedek my duikpak gewoonlik die res van my lyf, maar as ek in warmer water
branderplank ry, gebruik ek nie sonskerm nie omdat dit my laat gly.
Veiligheidstappe Ek dra ’n hoed, voorkom ontwatering deur baie
water te drink en gebruik Elizabeth Arden SBF 15-lipbalsem wat nie afwas nie. Om
my hare en vel te beskerm, gebruik ek die goeie ou staatmaker – haaropknapper
gemeng met sonskerm, en natuurlik hande vol sonbeskermingsroom.
Vel-verlede My pa is ook ’n branderplankryer en toe ek klein was, het
hy ook aan rubberbootresies deelgeneem. Ek het dus die meeste van die tyd in die
son gesit en bak, al het my ma my van babatyd af omtrent van kop tot tone met
sonskermmiddels gesmeer. My gesin is deesdae baie meer bewus van sonskade.
En hoewel ek nog nooit ’n velskandering of moesie-kartering ondergaan het nie, het al
die waarskuwings in die media wel gemaak dat ek nou meer sonskerm gebruik.
Mohamed se komentaar Roxy is wel sonbewus,
maar skiet nogtans ver tekort omdat sy nie sonskerm
gebruik wanneer sy sonder ’n duikpak in die water
is nie. Sonskermmiddels wat aangespuit kan word,
werk baie goed en sal sorg dat sy nie op haar branderplank
gly nie. Dis nie ’n goeie plan om sonskerm
met opknapper te meng nie, want dit maak dit minder
doeltreffend en dit sal nie werk nie. Vir alledaagse
gebruik moet Roxy ’n sterker sonbeskermingsfaktor
soos SBF 30 inspan, asook beskermers soos sonbrille,
hoede en ander bedekkings. Die feit dat sy op die
strand “gebak” het as kind, laat haar veiligheidstelling
aansienlik daal.
Roxy se sonveiligheidstelling is 5/10
Dale Steyn
SA krieketspeler
Sonstrategie Ek gebruik elke dag
’n SBF 15-bevogtiger, gewoonlik van Nivea of The
Body Shop. Maar wanneer ek op die krieketveld is,
gebruik ek Johnson & Johnson for Babies SBF 40 vir
my gesig en nek, en ’n SBF 30-sproei op my arms. Ek
vergeet gewoonlik om iets aan te smeer wanneer
ek net gewoonweg in die son ontspan, maar dan
het ek darem nog die SBF 15 aan my gesig.
Veiligheidstappe Ek dra ’n breërandhoed
en ’n langmouhemp wanneer ek visvang.
Vel-verlede Ek het eers sonbeskerming
begin gebruik toe ek meer tyd op die krieketveld
begin deurbring het. Voor die tyd was ek
nie eintlik bewus van sonskade nie, maar noudat
ek meer aan die son blootgestel word, is ek meer
bewus van wat kan verkeerd loop.
Mohamed se kommentaar Dale voldoen nie
aan enige sonveiligheidsmaatreëls nie. Die feit
dat hy tot tien uur op ’n slag op die krieketveld
deurbring en sy hoed en sonbril moet afhaal as
hy boul, verhoog sy risiko. Hy moet ’n faktor van
minstens 30 gebruik en dit gereeld aanwend
– veral as hy krieket speel. Hy moet ook onthou
dat die son net so gevaarlik is as hy in die buitelug
ontspan as wanneer hy op die krieketveld
is. Behalwe om sy sonbeskermingsroetine te
verskerp, is dit ook belangrik dat hy sy lippe en
oë met SBF-balsems en ’n sonbril beskerm.
Dale se sonveiligheidstelling 6/10
Vanessa Marawa
Model en die eerste wenner van
Survivor South Africa
Sonstrategie In die winter hou ek nogal daarvan om
in die son te wees, maar in die somer bly ek uit die son of soek ek
skuiling onder ’n sonsambreel. Ek moet erken dat ek nie sonbeskerming
gebruik nie tensy ek weet dat ek vir ’n lang tyd in die son
gaan wees. My gesig is egter ’n ander storie – my bevogtiger bevat
’n SBF 15 en ek hou altyd ’n SBF 30-sproei byderhand vir daardie
onverwagse sonnige oomblikke. Ek is ook ’n ywerige tuinier en
blink gewoonlik van al die sonskerm wat ek aangesmeer het.
Veiligheidstappe Tydens Survivor moes ons die
uitdagings in die son aanpak – en baie daarvan het ure geduur. Dit
was rof, maar onthou, dit was wel Survivor. Ek het dwarsdeur die
maand ’n pet gedra, maar dit was buite die kwessie om my lyf te
bedek – dit was omtrent warm.
Vel-verlede My ma glo in sonskermmiddels. Al sou ek
net vir ’n rukkie buitentoe gaan, sou sy altyd vra of ek onthou het
om sonskerm aan te wend. Toe ek jonger was, het my vriende altyd
ure lank in die son gelê om bruin te brand. Nou is ons almal baie
versigtiger. In my familie is ons geneig om moesies te kry. Ek het ’n
paar op my gesig, maar was nog nooit vir ’n moesie-kartering nie.
Ek het ook nog nooit rede gehad om oor kanker bekommerd te
wees nie, maar ek dink ek sal binnekort vir ’n velondersoek gaan.
Mohamed se kommentaar
Vanessa is die sonslimste van die drie bekendes. Sy moet egter onthou
dat om net sonskerm in “noodgevalle” aan te wend nie genoeg
is nie – dit moet dertig minute voor sonblootstelling aangewend
word. Sy moet ook onthou dat faktor 30 die minimum is wat vereis
word, dus is ’n faktor 15-bevogtiger nie die beste nie. Die feit dat sy
die son in die winter opsoek laat gevaarligte flikker, maar ons bly
wel in ’n sonskynland en moet dit geniet – solank ons veiligheid en
matigheid voor oë hou.
Vanessa se sonveiligheidstelling 7/10
Net een keer se sonbrand kan skade veroorsaak wat tot ’n hele paar ernstige
langtermyn-probleme lei, sê dr. Dagmar Whitaker, ’n dermatoloog van Kaapstad.
Die skadutoets
Bly uit die son tydens die warm ure – dis intussen hersien na tussen 10:00 en
16:00. Om seker te maak dat jy veilig is, doen die skadutoets. As jou skadu
korter as jy is, pak jou strandsak en gaan binnetoe.
Skrikwekkende sonfeite
- Die Kaapse dermatoloog dr. Dagmar Whitaker sê jy moet nooit ’n SBF laer as
30 in die son gebruik nie. Dis omdat SA die kortste sonveilige tye het.
- Onthou dat UVA-strale nie deur glas gefiltreer word nie. Jy dink dus dalk jy
is veilig agter die ruit van jou motor of kantoor terwyl jy in die sonnetjie bak,
maar jy kan nog steeds blootgestel word aan gevaarlike UV-strale al brand jy nie.
Breek deur die
sonblokkade
“Een van die wanopvattings is dat
sonskerm kanker veroorsaak,” sê
Mohamed. “Dis onwaar. Sonskerm
is nie kankerwekkend nie en is
heeltemal
veilig. Om die waarheid
te sê, dis die enigste manier
om seker te maak dat jy veilig in
die son sal wees.”
Kry ’n sonbeskermingsmiddel
waarvan jy hou en wat by jou
leefstyl en buitemuurse bedrywighede
pas (verkieslik
’n SBF 30).
As jy ’n produk kies wat by jou
pas, is die kanse beter dat jy dit
gereeld en reg sal gebruik.
Die SBF-faktor Wat beteken die
SBF-faktor? Eenvoudig gestel laat dit jou
toe om ’n sekere aantal minute – vermenigvuldig
met die faktorwaarde – langer
in die son te bly as wat jy gewoonlik kan
voor jy brand. As jy in ag neem dat ’n
ligte vel binne ’n kwessie van minute kan
brand, beteken dit dat ’n faktor 30, vermenigvuldig
met twee minute, gelyk is aan
een uur in flou son. Dis nie gelyk aan ’n
dag lange sonsessie op Clifton nie!
So hittete
Daar word jaarliks sowat 10 000 nuwe gevalle van
velkanker in Suid-Afrika gediagnoseer, wat dit een
van die algemeenste van al die soorte kanker maak.
Hou so jou gesin dié somer veilig in die son.
Só werk sonskade
Die berugte UVB-strale bestraal die buitenste laag van die vel
en veroorsaak sonbrand. (Onthou: B staan vir brand.) Hul UVAeweknieë
dring weer deur die vel se lae en veroorsaak skade wat
lei tot plooie, vlekke en verslapping. (Onthou: A staan vir agteruitgang.)
Saam kan dié strale yslike velskade aanrig.
Verbeel jou dat jou vel soos ’n tent is. Die kollageen en elastienvesels
is die onderliggende ondersteuningstrukture. As hulle
beskadig word en mettertyd verswak weens langdurige sonskade,
sal die hele “tent” begin wankel en uiteindelik inmekaarsak en diep
plooie veroorsaak.
Benewens die feit dat die son jou vel kan uitdroog, kan UVA- en
UVB-strale ook DNS-afwykings binne die vel se selle veroorsaak,
wat kan lei tot verskillende soorte velkanker. Slegte nuus, dus. Dis
hoekom dit so belangrik is om ’n sonskerm met UVA- en UVBbeskerming
te gebruik.
Die spektrum van sonskade
Nuusflits: Ongeag jou natuurlike velkleur, kan (en sal) die son nog
steeds skade aanrig. Só werk dit . . .
Ligte velle Sommige mense dink ’n donkerder vel is meer
bestand teen sonskade. Dis nie waar nie. Dis eerder die geval dat
mense met ligter velle dikwels gewaarsku word om uit die son
te kom – deur ’n brandende sensasie wat veroorsaak word deur
die verbruining van die pigment melanien in die velhuid. Die
ironie is dus dat ’n ligte, sonsensitiewe vel ’n mens inderwaarheid
beskerm teen oormatige blootstelling en UV-skade. Nogtans is
dit ’n feit dat iemand met ’n ligte vel baie minder tyd veilig in die
son kan deurbring. (Sien “Vind jou blootstellingsbalans”.)
Medium velle Mense met olyfkleurige en donkerder velle wat
nie die UVB-strale onmiddellik aan hul vel voel of die uitwerking
daarvan sien nie, bestee dikwels meer tyd in die son. Die gevolg
is dat hulle blootgestel word aan meer UVA-strale wat die vel
dieper binnedring, veroudering veroorsaak en die vel op ’n sellulêre
vlak affekteer.
Donker velle Navorsing het gewys dat ál meer mense met
donker of swart velle met melanoom gediagnoseer word. Die
probleem is dat vroeë waarskuwingstekens soos ’n misvormde
moesie of sonskade dikwels nie so duidelik op ’n donker vel wys
nie. Boonop kom melanoom meer dikwels by mense met donker
velle voor op areas wat nie so gereeld blootgestel word nie, soos
die binnekant van die mond, die binnekant van die neus en
tussen die tone. Dit kan dalk aangebore wees en dis ook nie duidelik
waarom dit juis die onblootgestelde dele is wat geraak word nie – die
probleem is egter dat dit dikwels eers opgespoor word wanneer dit te
laat is. Dra dus steeds sonskerm en hou ’n ogie oor moesies.
Vind jou blootstellingsbalans
Veilige en beperkte blootstelling aan die son hou wel ontsaglike voordele
in vir jou gesondheid. UVB is die sneller vir ’n kettingreaksie wat jou
liggaam help met die vervaardiging van vitamien D, wat beengesondheid
bevorder en osteoporose help voorkom. Sonskyn help ook om ’n
donker gemoedstoestand en die simptome van seisoenale gemoedsteuring
te verlig. Die geheim is om te sorg dat jy nie in die son bak en dan
verbrou nie, maar eerder ’n gesonde balans vind.
Volgens die gerespekteerde Harvard Health Letter is die “geheim van
sonblootstelling om ’n middeweg te vind – moenie ’n sonaanbidder
wees nie, maar moet ook nie ’n sonfobie ontwikkel nie”. Dié middeweg
word bepaal deur jou vel se kleur en reaksie op son.
Bleek velle Vyf minute se sontyd
voor 11:00 is ’n gesonde maksimum vir
tipe 1-velle (brand altyd, sonbruin nooit,
dikwels vergesel van bleek gelaatskleur,
rooi hare en sproete) en tipe 2-velle (brand
maklik, sonbruin minimaal, met ligte velle en
blou, groen of grys oë).
Donker velle Aan die ander kant van die
spektrum is tipe 5- (bruin vel wat selde brand en
goed tot donker verbruin) en tipe 6-velle (die minste
sensitief, baie pigment, brand omtrent nooit), wat
moontlik tot 20 minute sonblootstelling sal kan
hanteer.
Die tussenin-soorte vel moet hul sonblootstelling binne dié
twee uiterstes van die spektrum hou.
Al die tye hierbo neem ook in ag hoeveel tyd jy nodig het om genoeg
vitamien D te absorbeer om daaruit voordeel te trek.
Begin vroeg
Ouers moet verantwoordelikheid
neem vir hul
kinders se sonbeskerming.
Moenie dit los tot dit te laat
is nie – begin sonskerm
aansmeer
reeds wanneer jou kind
ses maande oud is. Voor dié
ouderdom moet babas
glad nie in die son
kom nie.
Moenie die moesies mis nie
Sekere moesies moet gereeld ondersoek word – “die
onreëlmatige moesies wat effens soos gebakte eiers
lyk,” sê die dermatoloog dr. Mohamed Docrat. “Dié
‘displastiese’ moesies het ’n hoë risiko en moet
met ’n moesie-kartering (’n rekenaargebaseerde
evaluering) gemonitor word.”
Gaan ook vir ’n gereelde velondersoek en
-skandering indien jy:
- altesaam meer as vyftig moesies het
- vyf of meer onreëlmatige moesies het
- enige nabye familie het met
melanoom.
Anders as wat mense dink, is die groter
en meer opmerklike moesies – soos dié
wat effens uitstaan – minder geneig om
gevaarlik te wees. “Moesies wat die meeste
dui op melanoom is klein, plat en donker,”
sê die dermatoloog dr. Rowena McKenzie van
Kaapstad. Dié soort moesie sit plat teen die vel en lyk
soos baie donker sproete. Hoewel die feit dat die moesies
hul verskyning gemaak het, nie dui op gevaar nie, kan ’n
verandering in die moesies se voorkoms ’n gevaarteken
wees. Die boodskap hieragter? Wees paraat. Gaan vir ’n
moesie-kartering by jou dermatoloog en laat jou moesies
gereeld ondersoek. Meet die klein, plat en donker moesies
jaarliks om te kyk of hulle enigsins van grootte verander.
As die buitenste kante van die moesie oneweredig raak of
enigsins van voorkoms of vorm verander, gaan praat met
jou dokter.
Sonskade
Skade van UV-bestraling kan nie altyd met die
blote oog uitgeken word nie, maar met ’n UVkameralens
word dit duidelik sigbaar.
Sun centre
Watch out for the sun
Making the sun your friend
|